|
|
Soos Klokslag
|
Een
Harry Rabinowitz, uit op ’n vroeë wandeling, kom op die eerste liggaam af. Haar keel is netjies, noukeurig deurgesny. Maar dit is nie die eerste ding wat hy opmerk nie. Sy lê op die boulevard, haar bene oopgespalk vir Jan Rap en sy maat om te sien. Haar gesig is kinderlik in die dood, haar donker hare golwend in die bries. Bloed het in haar ooghoeke opgedam en drooggeword, en strepe soos trane oor haar regterwang gelaat. Haar ontblote borste getuig van haar ontluikende vroulikheid. Een slanke arm is bo haar kop geplaas; die vingers van die linkerhand lê uitgestrek in ’n smekende gebaar. Die regterhand is met blou koord vasgebind; die toegevoude vingers rus op die heup.
’n Ruiker – soos dié van ’n bruid – lê langs haar. In die daaropvolgende gemaal van mense wat naderstaan en terugdeins, word die blomme vertrap, word hulle deel van die rommel in die straatvore.
Geskok kom hy langs die dooie meisie tot stilstand. Die gehamer van sy hart is oorverdowend. Dit word donker aan die buiterande van sy sig. Hy draai weg en steun op die soliede massa van die strandmuur, terwyl hy diep teue van die koue oggendmis inasem. ’n Groepie bejaarde vroue is in aantog. Hy lig sy hand in ’n flou poging om hulp te ontbied. Die vroue waai terug. Eers wanneer hulle amper by hom is, kry hy hulle sover om op te hou waai en die meisie se lyk raak te sien. Hulle drom rondom die liggaam saam. Ruby Cohen herken vir Harry en skarrel nader om sy arm te neem.
‘Jy lyk sleg, Harry. Kom sit.’ Sy lei hom na ’n oranje bank. Hy sit, wag vir sy hart om te bedaar, dankbaar dat sy haar oor hom ontferm. Sy maak seker dat hy gemaklik sit voordat sy na haar vriendinne terugkeer.
‘Bel jy die ambulans,’ beveel Ruby. ‘Ek gaan vir doktor Hart vra om te kom help. Sy woon daar oorkant, in die woonstel langs die vuurtoring.’ Harry kyk hoe sy selfvoldaan wegstap.
Nog mense daag op. Party, let hy op, wil naar word ten aanskoue van die dooie meisie. Harry vou sy jas stywer om sy lyf. Sodra ek minder koud kry, sodra ek sterker voel, dink hy, sal ek haar gaan toemaak.
Twee
Die nagkoue sypel uit die vloer tot in Clare se kaal voete, ondanks die son wat deur die venster val. Sy ontsien om haar pantoffels te gaan haal. Die dowwe klank van die branders wat aanstorm en terugtrek teen die strandmuur is gerusstellend ná die geweld van die storm wat hom ure voor dagbreek uitgewoed het. Fritz draai om haar bene. Clare gooi ’n hopie krummels in die spinnende kat se bak. Die oggendroetine is haar anker. Sy wag vir haar koffie: kyk hoe die stoom opstyg, haar hand gereed op die dompelaar. Sy hou van die manier waarop die koffiemoer weerstand bied wanneer haar hand ferm na onder druk.
Clare skink vir haar koffie en gaan sit by die tafel. Fritz spring op haar skoot en begin spin. Haar skerp naels knie ritmies op Clare se bobeen. Sy verwelkom die pyn. Sy streel die kat en skud die koerant uit. Sy lees die branderryverslag. Dan skink sy nog koffie en lees die weerberig. Mooiweer word vir die volgende paar dae voorspel.
Dit werk nie, maar Clare het al geleer om nie paniekerig te raak wanneer sy haar nie tot die hede kan bepaal nie. Sy probeer ’n ander taktiek.
Inkopies. Sy sal gaan inkopies doen. Daar is niks kos in die woonstel nie en sy het nuwe handdoeke nodig. Sy neem ’n potlood en begin ’n lys maak.
Suiker
Koffie
Toiletpapier
Whiskey
Vrugte
Seep
Katkos
Kouse
Clare leun vooroor sodat die son op haar rug kan skyn. Dit kan tog nie al wees wat sy nodig het nie? Sy leef al so lank uit ’n tas dat sy vergeet het hoe om ’n ordelike huishouding aan die gang te hou. Melk, voeg sy na ’n ruk by. Sy kan aan niks anders dink nie. Sy voel verlig toe die telefoon lui. Sy tel die gehoorstuk op en stoot die kat van haar skoot af.
‘Haai, Julie.’
‘Hoe weet jy altyd dis ek?’ vra haar suster.
‘Jy’s die enigste mens wat ek ken wat so vroeg bel.’ Julie se stem vul die stilte, die warmte daarvan jaag Clare se skadu’s terug na hulle skuilplekke.
‘Wat maak jy?’
‘Ek maak ’n winkellys,’ antwoord Clare.
‘Jy’t lekker huislik geword, nè?’ sê Julie.
‘Ek probeer,’ sê Clare. ‘Dis vreemd om by die huis te wees nadat ek so lank weg was. Fritz het so pas eers weer met my begin praat.’
‘Ons het gisteraand jou dokkie gekyk,’ sê Julie. ‘Het jy al die resensie in vanoggend se koerant gelees?’
‘Nog nie,’ sê Clare. Sy blaai na die kunsblad. ‘Clare Hart,’ lees sy hardop, ‘bekroonde joernalis, neem die ineenstorting van die oostelike Kongo onder die loep. Bla, bla.’
‘Ag, kom nou, Clare, moenie so wees nie. Jy’t dit ten minste bekend gemaak,’ sê Julie.
Clare se oë gly vlugtig oor die reëls. ‘Kyk, Julie. Nêrens word eers genoem dat die vredesmagte voedselhulp vir seks verruil nie. Dis nie eers ’n stippeltjie op die skandaalradar nie.’
‘Ek weet, ja, maar jy sorg darem dat mense opnuut kennis neem van die oorlog.’
‘Ek dink nie mense kom meer die verskil agter tussen ’n dokumentêre program en werklikheidstelevisie nie,’ sê Clare. ‘Ek skaam my vir die bevrediging wat mag inhou. En met ’n kamera in jou hand het jy mag, uit en gedaan.’
‘Dis jou werk, Clare, dis wat jy doen,’ sê Julie. ‘Ek gaan jou nie weer probeer oortuig dat jy die beste is nie. Kom ons praat oor iets anders. Hoe was jou branderryles?’
‘Fantasties,’ sê Clare. ‘Absoluut skrikwekkend, maar fantasties. Ek het vir ’n goeie tien sekondes orent gekom. Ek het weer ’n les bespreek vir die naweek. Jy moet vir Imogen laat saamkom. Hoe gaan dit met haar?’
‘Goed, sover ek weet. Sy’s stillerig, maar sy’s oukei, hoop ek. Moeilik om te sê met ’n sestienjarige,’ sê Julie. Clare is na aan haar susterskind, maar Julie is nie van mening dat sy noodwendig die beste chaperone is nie.
‘En hoe gaan dit met Beatrice?’ Clare hoor ’n verwoede gebrul. ‘Praat van die duiwel,’ lag sy. Beatrice is vier en weier om kompromieë aan te gaan.
‘Ag, liewe land, hier gaan ons al weer,’ sê Julie. ‘Sy dra net pers op die oomblik en al haar pers klere is in die was. Die arme Marcus probeer haar oortuig pienk is net so goed soos pers.’
‘Sonder veel sukses, te oordeel aan die kabaal,’ sê Clare.
‘Klink so,’ sê Julie. Sy maak die kombuisdeur toe en die geraas is meteens dowwer. ‘Vertel my van jou nuwe projek.’
‘Die mensehandel-storie?’ vra Clare.
‘Einste,’ sê Julie. ‘Het jy al die groen lig gekry?’
‘Nog nie. Ek het so ’n kriesel navorsingsfondse gekry, dus snuffel ek reeds,’ sê sy.
‘Wees tog versigtig, Clare,’ sê Julie. ‘Om in daardie ouens se sake te krap, is om ’n stok in ’n bynes te steek.’
‘Ek is altyd versigtig,’ sê Clare.’n Harde slag volg, met Beatrice wat luidkeels op haar ma gil. Sy klink buite haarself van woede. ‘Jules, ek kan jou beswaarlik hoor.’
‘Ek het niks gesê nie,’ sê Julie. ‘Wat jy gehoor het, was ’n oorblufte stilte.’
‘Ek gaan ’n entjie draf, Julie. Kan ek later weer bel?’
Ja, maar ek wil jou graag sien,’ sê Julie. ‘Daar’s nog baie wat ek wil weet.’
Die telefoon is dood voordat Clare kan groet. Sy stap uit op haar balkon om te strek. Dis koud ondanks die yl sonnetjie, dus trek sy haar top aan. ’n Dekade van hardloop het aan haar ’n lenige, soepel fiksheid besorg wat haar steeds verbaas.
Die geluid van die deurklokkie onderbreek haar. Sy gaan in. ‘Ja?’ vra sy ergerlik. Die binnetelefoon stotter. Clare kan niks uitmaak nie. ‘Wag daar,’ sê sy. ‘Ek is op pad.’ Sy neem haar sleutels en selfoon en sluit die deur. Twee spronge en sy’s onder, maar daar is niemand buite nie. Seker maar ’n bedelaar, dink sy. Net toe sy op ’n gemaklike drafstap wil wegspring, hoor sy hoe iemand uit die malende menigte op die boulevard oorkant Kusweg haar naam roep.
‘Hierso, doktor Hart. Help!’ Dis Ruby Cohen. Clare se moed sak in haar skoene. Clare se enkellopende status, sowel as haar weiering om by die buurtwag aan te sluit, beduiwel Ruby se sin vir orde.
Môre, Ruby,’ sê sy. ‘Wat is dit?’
‘Doktor Hart. Dis vreeslik. Kom kyk. Daardie arme meisie is dood.’
Clare sien die liggaam op die boulevard lê. ’n Lyk is nie ’n ongewone gesig in Kaapstad nie. Hawestede lewer gereeld menslike opdrifsels op, en laasnag se koue kon maklik ’n daklose se dood veroorsaak het voordat die oggendsonnetjie dit vanoggend verdryf het. Die mense drom saam, asof hulle troos vind in die feit dat húlle nog lewe. Clare stap nader. Sy wonder of die oorledene een van die haweloses is wat altyd daar naby skuiling soek.
Die bloed stol in haar are toe sy die dooie meisie sien. ’n Stringetjie hare fladder in die wind voordat dit op ’n maer bruin skouertjie tot rus kom. Clare glip terug in haar nagmerrie. Dit verg enorme wilskrag om terug te keer na die hede. Na hierdie liggaam. Hier. Vandag. Toe verander haar rol in dié van ervare waarnemer, en alle emosie neem die wyk. Sy neem vinnig die plasing van die liggaam waar; noteer elke besonderheid met forensiese presisie.
Sy let op die dowwe merke op die kaal arms, kneusplekke wat nog nie tyd gehad het om te verdonker nie. Die meisie se regterhand is vasgebind in ’n obsene gebaar. Dit rus koketterig op haar heup. Iets steek by die hand uit: glinster in die skuins sonstrale. Haar stewels is so hoog dat sy sou sukkel om te loop. Maar sy gaan nêrens: nie met die slanke keel wat feitlik deurgesny is nie.
Instinktief skakel Clare die kamera op haar selfoon aan en neem ’n reeks foto’s. Sy ignoreer die verontwaardigde gefluister rondom haar. Sy zoem in op die meisie se hande. ’n Bejaarde man tree na vore. Voordat Clare kan keer, gooi hy ’n jas oor die liggaam en skei daarmee die lewendes van die dooie. Die boodskap wat versteek is in die plasing van die gebroke liggaam, is nie langer sigbaar nie.
Clare staan terug, klap haar selfoon oop en skakel ’n nommer. In haar gedagtes probeer sy hom dwing om te antwoord. ‘Rediwaan,’ sê sy, ‘weet jy al van die lyk wat in Seepunt gekry is?’
‘Ons het so pas die oproep ontvang,’ antwoord hy. Sy stem verklap niks. ‘’n Patrolliemotor en ’n ambulans is op pad.’
‘Jy beter kom, Rediwaan.’ Sy kan sy aarseling aanvoel. Sedert sy terug is, het sy nog niks van haar laat hoor nie. Nou bel sy hom omdat iemand vermoor is. ‘Daar is niks voor die hand liggends omtrent hierdie geval nie.’
‘Wat bedoel jy?’ vra hy. Clare kyk na die klein hopie onder die jas. Die slanke, lewelose bene laat haar stem in haar keel vassteek. ‘Dis te netjies, Rediwaan, te gerangskik. En daar is geen bloed nie. Dit lyk nie vir my na ’n argument oor ’n fooi wat skeefgeloop het nie.’
‘Reg, ek kom,’ sê Rediwaan. Hy vertrou Clare se intuïsie. Sy is ’n profielsamesteller sonder weerga, ondanks haar onortodokse metodes. Sy stem versag. ‘Hoe gaan dit, Clare? Ons het jou gemis.’
Clare hoor, maar antwoord nie. Sy smoor die gevoelens wat in haar opvlam en klap die foon toe. Die oggend voel sommer kouer.
Daar is niks wat sy verder kan doen nie. Sy dwing haarself om te begin draf. Daar is geen rede waarom sy moet rondhang en kyk wat verder met die meisie gebeur nie. Sy weet reeds. Clare hardloop drie kilometer voordat die ritme van haar voetval op die sypaadjie die beeld van die dooie meisie uit haar gedagtes verban.
Sy konsentreer op die dreuning van die golwe. Sy wil nie dink aan die lyk op die sypaadjie nie, maar haar gedagtes keer telkens daarheen terug, soos ’n tong wat nie van ’n pynlike tand kan wegbly nie. Na ’n halfuur hardloop sy langs die boulevard terug. Sy sien Rediwaan se motor langs die afgesperde gebied rondom die liggaam. Die meisie is in goeie hande.
Inspekteur Rediwaan Faizal se wraaksug het hom die gawe besorg om die moordenaars van jong meisies uit te ruik. Clare weerstaan die drang om met hom te gaan praat. Hy sien haar nie op die rand van die skare staan nie, dus gaan sy huis toe. In haar woonstel stort Clare en kies ’n top, langbroek, baadjie en serp met die vlugge sekerheid van ’n vrou wat goeie klere besit en weet hoe om aan te trek. Die plaaslike radiostasie saai reeds die eerste berigte uit oor vanoggend se grusame vonds. Teen vanmiddag sal die moordopskrifte die stad se lamppale ontsier.
Clare skakel die nuusleser se stem af en gaan sit by haar lessenaar. Sy kyk by die venster uit. Die uitsig oor die see herstel haar balans en na ’n ruk kry sy dit reg om haar aandag by haar werk te bepaal. Sy trek ’n bultende lêer nader. Buite-op staan in goue letters geskryf: Mensehandel in Kaapstad. Clare het tot die slotsom gekom dat vroue uit Suid-Afrika se onrusgeteisterde noordelike buurlande opgeveil word langs Hoofweg – Kaapstad se uitgestrekte rooiligarea, wat die gegoede voorstede wat om die voet van Tafelberg saamkoek in twee verdeel. Hierdie vroue bedien ook die moederstad se bordele en die groot aantal mansklubs. Die handel word toenemend georganiseerd. Clare berei tans voor vir ’n onderhoud wat delikate onderhandeling geverg het om te reël. Natalie Mwanga is uit die Kongo hierheen gebring en sy neem ’n groot risiko deur met Clare te praat.
Clare se ondersoek besorg haar nie juis nuwe vriende nie. Sy moes haar vervaardiger in die verre, veilige Londen oortuig om haar toe te laat om ’n mensesmous ’n hoofrol te gee in haar volgende dokumentêre rolprent. Dis ’n gewaagde proposisie, dus het sy vir ekstra tyd gevra. Sy het voelers uitgesteek, reeds voordat sy twee maande gelede na die Kongo vertrek het. Met haar terugkeer het sy gehoor Kelvin Landman sal dalk met haar praat. Hy pimp reeds sedert sy vyftiende jaar. Clare kon nie die gerug bevestig dat hy met sy tienjarige sussie begin het nie. Landman, volgens ’n bron in die polisie, het vinnig opgang gemaak in ’n straatbende. Hy is egter ’n man met visie, en die toeganklikheid van Suid-Afrika se post-demokratiese grense is ’n vrypas vir Landman om geld te maak. Sy naam is sinomiem met mensehandel vir die seksbedryf. Enige oortreding van sy reëls word meedoënloos gestraf.
Clare het ’n jong straatvrou gevra hoe Landman te werk gaan. Die meisie het aan haar twee lang, ligte littekens dwarsoor haar sagte maagvel gewys – haar straf vir ’n nalatige swangerskap. Sy het vertel hoe sy die baba moes laat aborteer en die volgende dag weer moes inval. Toe Clare vir ’n onderhoud vra, het sy gelag en weggeslenter. Clare het haar nie weer gesien nie.
Clare kyk weer uit oor die see. Die mis rol in en daarmee saam verdwyn die belofte wat die oggend ingehou het.
Dis duidelik dat mensehandel weinig risiko vir die handelaar inhou, en boonop volop kontant genereer. Landman is berug daarvoor dat hy hom by die hoogste echelons van sake- en politieke kringe inwurm. Hy is selfs al deur ’n gerekende Sondagkoerant beskryf as ‘a man about town’. Clare haal ’n skoon vel papier uit en skryf haar vrae neer.
Wat word van die kontant?
Hoe word dit wettig aangewend?
As Landman die verkoper is, wie is die kopers?
Wat koop hulle?
Sy is vasbeslote om uit te vind. Die vermoorde meisie op die boulevard duik ongevraagd in haar gedagtes op. Sy staan op. Sy moet uitkom, tussen mense wees. Sy neem haar inkopielys en kies koers na die Waterfront. Op pad soontoe kan sy dalk aan nog ’n paar items dink.
Gerookte salm.
Wyn.
Opwasmiddel, miskien.
Back to Books (Afrikaans)
|
|
|