Hersien

Soos Klokslag Cover

Like Clockwork deur Margie Orford

Die Republikein - Nuus

Wanneer ‘n beeldskone jong vrou vermoor word in Seepunt, word die joernalis en deeltydse polisie profielontleder, dr. Clare Hart, vasgevang in die web van ‘n brutale reeksmoordenaar. Soos meer lyke opduik, word Clare gedwing om die wrede verkragting van haar tweelingsuster jare gelede en die noue verbintenis tussen die moorde met die Kaapstadse onderwęreld te herondersoek. Is daar ‘n skakel tussen haar eie ondersoek na handel met mense en die moorde, of speel die moordenaar maar net ‘n siek speletjie met haar?

Skrywer Margie Orford was onlangs in Windhoek om hierdie, haar eerste roman, te loods.

Margie, wat ‘n rits akademiese- en kinderboeke asook rolprente die lig laat sien het, het vir hierdie boek die eerste keer haar hand aan die riller-genre gewaag. In ‘n onderhoud met Kollig het sy verduidelik dat een van die groot verskille teenoor akademiese werk gesien, was dat sy aksie en dialoog by Like Clockwork moes inbring. “Maar beste van alles is dat die ‘baddies’ vir ‘n slag ‘n bietjie van hul eie medisyne proe! Dis amper asof hulle daarmee kan wegkom in die werklike lewe.”

Like Clockwork speel in Kaapstad af waar sy met haar gesin woon. Hoekom juis Kaapstad? “Stede met hawens is altyd ietwat van ‘n donker węreld waar nare dinge gebeur en mense maklik kan verdwyn. Dit was eintlik die perfekte ligging. Dus ook hoekom ek besluit het dat Clare se tweede avontuur in Walvisbaai sal afspeel.” (Margie beoog om Tidal Pull teen April volgende jaar die lig te laat sien.) “Dit was nogal vreemd, maar ek leef eintlik lekker daar. Ek glo ook lesers sal baie van die liggings ken.”

Die gedagte vir die boek het ontstaan uit die feit dat Margie ‘n ondersoekende stuk oor handel in vroue en kinders vir die tydskrif Marie Claire geskryf het. “Ek moes baie onderhoude met die polisie voer en het honderde ure met hulle deurgebring vir daardie ondersoekende stuk. Like Clockwork was vir my amper ‘n natuurlike voortspruiting daaruit,” vertel sy.

Dit was juis ook vir die Marie Claire-berig dat sy ‘n Mondi Finalis-toekenning ingepalm het, een van die mees gesogte toekennings vir tydskrif joernalisme in Suid-Afrika.

Hoewel die besluit om die boek te skryf nie so maklik was nie, het dit daarna maande se bloedsweet gekos om te voltooi. “Ek het elke dag vir vier maande ses ure per dag geskryf. Ek het myself in ‘n kamertjie toegesluit en my familie moes maar self sien kom klaar. Gelukkig het hulle dit almal oorleef!”

Like Clockwork is ‘n vinnig-bewegende verhaal wat die wreedheid van die węreld uitbeeld. Sy waarsku ook dat dit nie heeltemal vir sensitiewe lesers geskik is nie.

Wat wel ‘n bietjie steurend is, is die gebruik van Afrikaanse woorde tussen die Engelse dialoog. Al praat talle Engelse Suid-Afrikaners só, doen dit ietwat afbreuk aan die boek. Hier en daar kon die karakters ook beter ontwikkel het, soos die broer van een van die vermoorde meisies. Beslis ‘n donker karakter wat voorgee dat hy meer weet as wat hy sę!

Andersins kon hierdie verhaal in enige ander węreldstad afgespeel het, met sy spanning en drama wat maak dat jy blad na blad omslaan.

Margie is in Londen gebore van Suid-Afrikaanse ouers wat na Suid-Afrika teruggekom het toe sy maar 14 maande oud was. Toe sy ses jaar oud was, het die gesin na Namibië verhuis waar haar ouers by leeu-navorsing in die Etosha-panne betrokke was.

Sy het egter later na Suid-Afrika teruggekeer om ‘n honneursgraad te voltooi waar sy die geleentheid gehad het om onder J.M. Coetzee te studeer. Na twee jaar in Engeland en die geboorte van haar eerste dogter, het sy na Namibië teruggekeer. In hierdie tyd het sy Engels aan die Universiteit van Namibië gedoseer en haar eerste boek is in 1996 vrygestel. In 1999 het sy ‘n Fulbright-beurs ontvang en het sy vir twee jaar in New York gestudeer.

Dit was hier waar sy aan die akademiese boek, Women Writing in Africa, the Southern Volume, gewerk het.

Sy kuier nog steeds gereeld by haar ouers wat in Windhoek woon.

Like Clockwork (ISBN: 1770070532) is deur Oshun vrygestel, kos N$109,95 en is by meeste boekwinkels te koop.

Back to Books (Afrikaans)

 

E-mail: margie@margieorford.com  |  Agent: www.blakefriedmann.co.uk